Appel sluit by #HelpJag-span aan

Helpende Hand is trots daarop om die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Appel, as ’n ambassadeur van dié welsynsorganisasie se #HelpJag-projek te verwelkom.

Appel het pas amptelik met Helpende Hand hande gevat en gaan saam met #HelpJag se ander twee ambassadeurs, die oud-Springbok Bakkies Botha en sanger Adam Tas, help dat meer as 8 000 behoeftige kleuters en hul gesinne ’n gesonde bron van proteïne, in die vorm van wildsvleis, op hul borde kry.

Margolé Riekert, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand, verduidelik #HelpJag is in 2018 van stapel gestuur weens ’n tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene vir Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema.

“#HelpJag moedig jagters aan om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk. Helpende Hand betaal dan vir die verwerking van die bokke wat jagters jag. Die vleis word ook verwerk voor dit na die behoeftige gesinne versprei word. Verlede jaar kon ons 30 ton wildsvleis versprei,” sê Riekert.

Riekert sê egter die uitbreek van die Covid-19-pandemie het vanjaar ’n stuiwer in die armbeurs gegooi en jagters kon nie gaan jag nie. Dit het #HelpJag genoop om saam met sy drie ambassadeurs asook Wild & Jag/Game & Hunt die #RandPerKilogram-inisiatief van stapel te stuur.

“Weens die reëls en regulasies tydens die staat van inperking is daar baie onduidelikheid en onsekerheid oor wanneer die publiek weer kan gaan jag. In plaas daarvan om self te gaan jag kan die publiek, selfs die wat nie jag nie, ’n bedrag van so min as R35 ’n kilogram se wildsvleis skenk. Dit kan ’n reuse verskil in ’n behoeftige kleuter en hul gesin se lewens maak.”

Riekert sê die doel van die R35-skenkings is drievoudig. “Dit voed behoeftige kleuters en hul gesinne. Dit gee die wildplase of reservate ook ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien tydens dié moeilike tye en verder dra die fondse by tot die algemene bestuur, betaling van werkers en ander belangrike bedrywighede soos teenstropery-aksies,” sê sy.

Volgens Riekert is wildplase en reservate nie net sakeondernemings wat tans swaar gebuk gaan of bloot ’n plek is waar daar op ’n verantwoordelike manier gejag word nie. “Baie van die grond huisves ander belangrike dierspesies. Die meerderheid van beskikbare wild-habitat in Suid-Afrika is in privaat besit. Dus lê ’n groot deel van die potensiaal om te bewaar in dié areas. Deur wildplase te ondersteun help ons dus om die habitat van baie bedreigde spesies te bewaar,” voeg sy by.

Oor sy betrokkenheid by #HelpJag, sê Appel dit is min dat hy twee dinge waaroor hy passievol is terselfdertyd kan uitleef – dit is om te jag en te help. Hy het verder ook onderneem om ’n gedeelte van die opbrengste van sy Ek is Jagter-klerereeks ten bate van #HelpJag aan te wend. Die klerereeks is aanlyn beskikbaar.

Bakkies en Adam het Appel by die span verwelkom en gewaarsku dat as hulle weer kan gaan jag, Appel die groentjie sal wees wat al die takies by die jagkampe gaan moet verrig.

Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting of om ’n bydrae te maak.

//Einde

Uitgereik deur: Phillip Bruwer

Helpende Hand

Mediaskakelbeampte

Sel: 081 374 5043,
E-pos:
[email protected]