Buisdoorens

Buisdoorens. Eers net ’n naam, maar die naam het vinnig verander na ’n herinnering wat ’n glimlag op ons gesigte sit. Hier kry ’n “bosveld-sonsak” nuwe betekenis wanneer die son oranje agter die klein wit wolkies en die ryg doringbosse sak. Hier vind jou siel rus wanneer jy saans jou verlustig aan die veranderende beeld van die bosveld-TV terwyl Adam Tas Hardekole op sy kitaar speel. Hier is die volgende maaltyd beter as die vorige een en skaaprib en mieliepap, koeksisters en room kry totaal nuwe betekenis.

By Buisdoorens word daar gejag. Die adrenalien bruis deur die manne se are vandat die gewere ingestel word, totdat die groot koedoe-bul met die eerste skoot morsdood op die grond neerval. Bakkies vra: “Kom ons gaan nog ’n bietjie nader”, maar Adam stel hom gerus, “Vat hom my maat”. Die spoorsnyers se kuns is fyn, want hiérdie blou wildebeeste val nie sommer maklik nie. Die ryg bosveld met die groenste doringbosse maak seker dat man en dier alles tot die geveg moet bring.
Vir ‘n onvergeetlike jagtog, kies Buisdoorens. Jy kan nie verkeerd gaan nie.