Jagters bring hulle deel om honger te bestry ten spyte van pandemie

Met 2020 se jagseisoen wat sy laaste doodskoppe gee, kan Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-span terugkyk na die hoogtepunte wat bereik is ten spyte van uitdagings wat die nasionale inperkingsregulasies gebied het.

Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag, sê dat #HelpJag altesaam 23 ton wildsvleis teen die einde van Augustus verlede jaar ingesamel het, en dit het gehelp om te sorg dat 8 000 kleuters deur Helpende Hand se #StopHonger- en #Kosblikkie-voedingskema ’n gesonde bord kos by hul skole ontvang het.

“Vanjaar moes ons steeds sorg dat 8 000 kinders elke dag kos kry, maar omdat die skole vir lank gesluit was, moes ons reël dat hulle by hul huise kos kry. Ons moes dus vir hulle én hul gesinne kos voorsien. Nog ’n dilemma was die streng Covid-19-inperkingsmaatreëls wat verhoed het dat jagters grense kon oorsteek om te gaan jag. Tog kon ons met die hulp van 126 jagters sorg om teen die einde van Augustus sowat 26,6 ton wildsvleis in te samel,” sê Riekert.

Sy sê gedurende die afgelope drie jaar van #HelpJag se bestaan, kon dié instansie met die hulp van sy ambassadeurs en Wild & Jag/Game & Hunt, ’n totaal van 68,6 ton vleis insamel.

Riekert noem dat een van die hoogtepunte ’n reuseskenking van 30 blesbokke was wat deur AfriForum se Hulpfonds geskenk is.

Nog ’n hoogtepunt was toe die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Appel, by die oud-Springbok Bakkies Botha en die sanger Adam Tas as ambassadeur aangesluit het.

Kort daarna is die #RandPerKilogram-inisiatief van stapel gestuur. In plaas daarvan om self te gaan jag, kan die publiek, selfs die wat nie jag nie, ’n bedrag van so min as R35 ’n kilogram se wildsvleis skenk. Dié inisiatief word steeds gedryf.

Riekert sê alhoewel die amptelik jagseisoen nou tot ’n einde gekom het, kan jagters wat nog beplan op te gaan jag of daar plase is wat wil uitdun, hulle #HelpJag kan kontak. Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting.

//Einde

Byskrif: 1) Adam Tas, Bakkies Botha en Appel

2) & 3) Bakkies Botha en Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, tydens ’n onlangse uitdeelaksie in Apiesrivier, noord van Pretoria.

Uitgereik deur: Phillip Bruwer

Helpende Hand, Mediaskakelbeampte, Sel: 081 374 5043, E-pos: [email protected]