Jagters plaas armoede in visier

As jag in jou are loop is dit onlosmaaklik deel van jou…dis nie iets wat jy kan kies nie; dit het JOU gekies.  En wanneer die jagveld roep is dit al wat jy hoor; al wat jy dink, droom, slaap, eet.  Dis ‘n hunkering.

Solidariteit Helpende Hand se HelpJag inisiatief het in 2018 sy eerste tree gegee en ongelooflike reaksie uitgelok.  Meer as 12 ton vleis is ontvang wat aan 82 kleuterskole versprei is en ’n daaglikse maaltyd aan ongeveer 6 500 kleuters kon voorsien.

Dit het alles begin by ‘n klein seuntjie wat sommerso uit sy eie besluit het om die heel eerste bok wat hy geskiet het aan ‘n kinderhuis te skenk.  Die tienjarige Johan Brink het hierdie kosbare mylpaal in sy lewe gevier deur behoeftige kinders te laat deel in sy vreugde.

So het die absolute opregtheid van ‘n kind ons almal se harte aangegryp en ons het koppe én hande bymekaar gesit om nog meer magies vol te kry.

Ons het Johan se storie begin vertel en Bakkies Botha en Adam Tas het soos ridders op wit perde aangetree om die droom te laat groei; ons voete was onder ons uitgeslaan toe HuntEx ons aanneem as hul liefdadigheidsorganisasie en Wild en Jag tydskrif aanbied om ons mediavennoot te wees.  Phillip Grobler van die plaas Buisdoorns het die eerste offisiële jagtog geborg waarmee ons amper 1 ton vleis kon kry. En van daar het nog ridders een na die ander begin aantree deur vleis te skenk, donasies te maak, vleis te bewerk, vervoer te reël….die lys is lank en ongelooflik.

En hier is ons… amper ‘n jaar later; op die drumpel van die volgende jagseisoen en ons kan met trots sê dat die projek van krag tot krag groei.

Het julle geweet ‘n gemiddelde koedoe se vleis kan vir 40 kinders ‘n ete gee; ‘n blesbok kan 13 kinders voed en selfs ‘n rooibok kan 10 magies volmaak.

Magies volmaak…dis waaroor dit gaan.  Dit is hartverskeurend hoeveel kleuters afhanklik is van ‘n ete by die skool as hul primêre ete vir die dag; dis harde realiteit dat klein liggaampies nie normaal ontwikkel sonder ‘n gebalanseerde dieet nie. Dis moeilik om te konsentreer wanneer jy honger is; dis onmoontlik om te presteer terwyl jou magie grom.

Ons mag nie sit en toekyk terwyl dit gebeur nie – ons kán hierdie kindertjies hoop gee.  Helpende Hand se Kosblikkie-projek ondersteun al vir amper 10 jaar voedingskemas by kleuterskole regoor die land; HelpJag versterk ons hande en maak dat ons nog méér kan gee.

Elkeen van ons kan ‘n rol speel in toekomshoop vir die kinders.