Natshoot dra R 60 000 by tot HelpJag-sukses

Die Covid-19 pandemie het verskeie uitdagings vir die jagbedryf en gevolglik ook vir Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-projek na vore gebring. Voor die Covid-19 pandemie, het HelpJag, wat hoofsaaklik staatmaak op skenkings vanuit die jagbedryf, 8 000 kinders van hul daaglikse proteïeninname voorsien. Die verbod op jag tydens vlak vier van inperking, het Helpende Hand se HelpJag-projek egter ook met ‘n rits vrae en onsekerheid gelaat. Boonop het dit die lys van mense wat op hierdie projek staatmaak parallel met ons land se verlaging in ekonomiese omstandighede verleng.

Barry York

Ten spyte van die grendelstaat en die verbod op jag, is daar steeds tot op hede 4.5 ton vleis aan HelpJag geskenk wat die afgelope tyd na 8 000 kleuters en hulle gesinne versprei word. Dit te danke aan lojale ondersteuners soos die Nasionale Jag- en Skietvereniging, ook bekend as Natshoot. Die vereniging het onderneem om vir ’n tydperk van 4 maande, wildkarkasse ter waarde van R15 000 per maand by York Safaris aan te koop en aan HelpJag te skenk. Die York-familie is sedert 1688 deel van Afrika en York Safaris is meer as 27 jaar in die wildbedryf. Die wildsplaas is geleë in die Waterberge tussen Modimolle en Vaalwater.

Richard York en van die York Safaris werkers

Die eerste skenking was ’n totaal van 340kg wat aangewend is om aan 340 gesinne ’n maaltyd te voorsien. Onthou, een kilogram wildsvleis kan ‘n gesin van vier vir ‘n dag voed!

Volgens Herman Els, uitvoerende hoof van Natshoot is die tipe skenking tweeledig. Dit is nie net ‘n bydrae to HelpJag nie, maar gee die wildsplaas/reservaat ook ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien tydens dié moeilike tye en verder dra die fondse by tot die algemene bestuur, betaling van werkers en ander belangrike bedrywighede soos teenstropery-aksies.

HelpJag het geweldige waardering vir die toewyding van ondersteuners. Aan die einde het ons almal een doel voor oë en dit is om armoede hok te slaan en tydens hierdie ongekende tyd van nood verligting te bring.

Kontak gerus vir Margolé Riekert, die projekorganiseerder van Helpjag vir meer inligting en hoe om betrokke te raak by Helpjag.

012 111 8360 x 128

074 488 0508

[email protected]