Is jy ’n jagter met ’n hart vir liefdadigheid?

Vleispryse het só gestyg dat daar nie altyd geld by gesinne vir ’n gebalanseerde bord kos, waar vleis deel van die spyskaart uitmaak, is nie. Dit het vir Solidariteit Helpende Hand duidelik geword dat daar baie jagters is wat graag ’n bydrae sal wil lewer deur die vleis van ’n bok wat hulle jag te skenk om ’n behoeftige Afrikaner-kind se lewe makliker te maak.

 

Die hooffokus van die HelpJag-inisiatief is om Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat tans aan 89 skole finansiële ondersteuning ten opsigte van voeding bied, te ondersteun. Vir baie van die kleuters is hierdie bord kos die enigste kos wat hulle daardie dag sal kry. Daarom is dit van kardinale belang dat hierdie bord kos voedsaam is. Die aanwesigheid van ’n hoë-proteïen dieet, soos wildsvleis, verbeter die kleuter se kanse om gesond te ontwikkel en dra by tot verhoogde konsentrasie en prestasie op skool.

 

Om vir ’n jaar aan die daaglikse minimum proteïeninname van kleuters te voorsien, benodig HelpJag 160 ton wildsvleis. Elke Koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir ’n maand voed, terwyl ’n gemsbok 26 kleuters vir ’n maand voed. Selfs ’n springbok kan 6 kleuters per maand van ’n gesonde maaltyd voorsien.

 

HelpJag en die bekende Wild&Jag-tydskrif vir die Wildboer en Jagter het in 2018 reeds hande gevat om die publiek bewus te maak van die groot hongersnood onder ons land se kleuters, en hoe ’n jagter met ’n hart vir liefdadigheid ’n bydrae kan lewer.

 

Bakkies Botha, Adam Tas en Appel is die ambassadeurs van dié projek.

 

As jag in jou are loop is dit onlosmaaklik deel van jou. Dit is nie iets wat jy kies nie; dit het jóú gekies. En wanneer die jagveld roep is dit al wat jy hoor; al wat jy dink, droom, slaap en eet. Dis ’n hunkering.

 

Wanneer jy dus weer gaan jag, neem jouself voor om iets te doen vir behoeftige kleuters en hulle gesinne.

 

Jy kan ons ondersteun deur ’n donasie te maak of ’n bok vir HelpJag te skenk.

 

Vir meer inligting gaan besoek gerus die webtuiste www.helpjag.co.za asook HelpJag se Facebook-blad.